HOE WEET ONS DAT ONS WEET?

KENNIS 101

As jy soos ek is, of indien jy agtien jaar oud is, dink jy sekerlik jy weet alles. Dit is net ‘n ou grappie, maar het jy al ooit gewonder wat dit beteken om iets te weet? Wat beteken dit om werklik te glo?

Filosowe hou daarvan om te definieer. Terloops, ek is nie ‘n volwaardige filosoof nie alhoewel ‘n filosoof geklasifiseer kan word as enige persoon wat die fundamentele aard van kennis, werklikheid en bestaan, bestudeer as ‘n akademiese dissipline. In kort, dit is iemand wat redeneer, soos ek reeds gehanteer het in die artikel ‘Argumenteer 101’. Volwaardige filosowe is persone wat grade op die gebied het. Ek het dit slegs gestudeer as deel van my regstudies. Ek het op daardie manier ‘n passie daarvoor ontwikkel, veral toe ek begin sien dat daar ‘n christelike weergawe daarvan is, genaamd: Apologie. Neem kennis dat hierdie laasgenoemde ‘n studieveld op sy eie is en ook anders gedefineer word. Ons sal in die toekoms meer oor hierdie onderwerp deel. Huidiglik fokus ons eers op filosofie, want jy gaan onsuksesvol wees as ‘n apologeet as jy nie kan argumenteer op die vlak van wêreldse filosowe nie.

As denkers, spandeer ons baie tyd om die regte en spesifieke woorde te kies om uiting te gee aan wat ons bedoel, woorde soos: geloof, weet, regverdigheid, kennis en geregverdig. Net omdat hierdie terme reeds gedefinieer is in jou Oxford Dictionary of die HAT, beteken nie dat filosowe nie daaroor argumenteer nie. Die rede hiervoor is dat baie woorde eenvoudig klink, maar hoe meer ons oor hulle dink, hoe meer ingewikkeld word dit vir ons.

Een stap verder –

Indien jy glo dat iets korrek is, en dit is, maak dit saak dat jou geloof daarin geregverdig is?

Nog een stap verder –

Kan ‘n persoon werklik reg wees oor iets sonder om enigsins te probeer?

Hierdie kom voor as werklik eenvoudige vrae, maar dink daaroor vir ‘n paar minute.

Soos ek reeds aangedui het in my artikel ‘Argumenteer 101’, argumenteer filosowe, en in daardie geval, regsverteenwoordigers nie soos kinders nie. Dit moet geensins in daardie lig gesien word nie. Het jy al gehoor hoe ‘n persoon in jou familie vir ‘n ander een in die famlie wat in die regsberoep is sê: “Man! Jy hou net van stry. Jy wil net reg wees.” Die eersgenoemde is nie verkeerd nie, maar wat hulle nie verstaan nie is dat persone in die regsberoep nie argumenteer om te stry nie. Nie eers om te wen nie, maar om die waarheid te bepaal.

Mense wat argumenteer vir ‘n lewe, het tot hulle beskikking ‘n paar hulpbronne om die hee-en-weer opmerkings todat die teenkant moed opgee. Die oogmerk is immers nie wie reg of verkeerd is nie, maar wat is die waarheid.

Ek was geleer dat om te kan staan in enige argument moet ek twee bokshandskoene aantrek hulle name is:

Bewering;

en

stelling.

Hierdie twee elemente is uiters belangrik. Ons moet kan bepaal wanneer weet iemad werklik waarvah hy/sy praat en wanneer glo hulle net dat hulle reg is. Hierdie boonste sin is ‘n voorbeeld van ‘n bewering. Dit is ‘n mondelinge of geskrewe handeling met waarheid-waarde. Alle sinne wat ‘n bewering maak het waarheid-waarde. Dit maak dit egter nie ten volle waar of vals nie, net vatbaar daarvoor.

Een voorbeeld hiervan is dat ek kan beweer dat jy hierdie artikel klaar gaan lees. Dit is op hierdie huidige stadium onbepaald, want dit het nog nie gebeur nie. Hierdie bewering gaan waar wees indien jy die artikel klaar lees en vals indien jy dit nie doen nie. Die inhoud van ‘n bewering dien as ‘n voorstel. Dit is die onderliggende doel van die bewering wat jy maak.

Min van ons let werklik op die inhoud van ‘n bewering. Veronderstel ek skree kliphard: “Daar is ‘n pen in my hand!” sal jy heel waarskynlik dink ‘n pen het dwarsdeur my hand gesteek, maar as ek kalm sê: “Daar is ‘n pen in my hand” sal jy heel waarskynlik kyk na die pen in my hand. Dit is belangrik om hierop te let, want die taal of houding waarin ‘n bewering gemaak is kan verander, maar dit verander nie die inhoud daarvan nie.

As ek in Italiaans sê: “c’è una penna nella mia mano” en in Frans: “il y a un stylo dans ma main” beteken albei in engels: “There is a pen in my hand.” (Volgens Goodle Translate). Die voorwerpe en die onderliggende doel van die sin moet dieselfde bly regdeur in verskillende tale vir die bedoeling om waar te wees. Kan jy sien watter uitdagings dit inhou vir vertalers van ou manuskripte soos die Bybel?

Die manier en die taal waarmee bewerings oorgedra word bëinvloed of jy dit gaan aanneem as die waarheid. Ons doen hierdie twee dinge elke dag. Veronderstel jy sit in die kerk en luister na ‘n preek. Indien die predekant klink asof hy sonder selfvertroue voorkom, dan is dit ‘n voorstel van ongeloof, en ons gaan hom ook nie glo nie, maar ongekeerd, as dit een is van geloof, want die predekant bied die bewering aan uit selfvertroue, dan is dit ‘n voorstel van geloof. Dus kan ons deur na die predekant se toon te luister, of deur sy houding waar te neem bepaal of hy sy eie bewering glo of nie!

In terme van kennis, gaan jy nie vêr vorder indien jy nie ook die definisies van ‘glo’ en ‘weet’ vasstel nie. Om te glo is eenvoudig om ‘n propositionele houding in te neem teenoor die waarheid. Moet asseblief nie kwaad wees omdat ek nie Paulus se definisie van geloof gebruik nie. Ons gaan op ‘n latere stadium praat oor godsdiens, geloof en apologie.

Nietemin, ek glo dat die pen in my hand ‘n werklike pen is, indien dit die waarheid is. Ek kan glo dat dit ‘n veer is, maar dit is nie. My geloof moet ‘n geregverdigde houding teenoor die waarheid wees. Om dit te kan doen, moet jy eers die waarheid erken.

Die belangrike punt waarop jy moet let is dat ek, soos enige ander persoon ‘n geloof kan hê in dit wat vals is. Hoe bepaal ons dan wat ons weet? Wel, kennis is geregverdigde ware geloof of geregverdigde geloof in die waarheid. Hierdie drie elemente moet altyd teenwoordig wees om te bepaal of jy werklik iets weet.

Ek neem aan, dit is slegs ‘n bewering, dat op hierdie stadium sit jy met jou vingers in jou hare, besig om te twyfel in dit wat jy werklik weet. Ek het ook so gevoel na my eerste dans met filosofie. My belofte is die; indien jy kan bepaal wat jy werklik glo, gaan niks jou ooit van daardie wete laat wankel nie. Dit is die punt van hierdie oefening, en ook die einde van ‘Kennis 101’.

Kennis 102 vervolg.

Dawid Brits

(“Gee smaak aan jou wêreld”)