COVID-19 : NET ‘N STORM

Ek is bewus van die feit dat ‘n artikel oor die COVID-19 pandemie in Suid-Afrika hierdie webwerf se statestieke deur die dak kan laat styg. Ek wil nie graag kapitaliseer op hierdie kwessie soos vele ander reeds doen nie. Tog, is hierdie ‘n ernstige saak wat elke aspek van ons lewens raak – die ergste hiervan, die ekonomie, maar vir my nog erger self, ons geloof.

Die naweek was ek self in vrees gedompel terwyl ek oor die nuus luister hoe die wêreld ekonomie verswak; hoe wêreldsport afgestel of uitgestel word en hoe Suid-Afrika tans verkeer onder ‘n nationale ramp. Hierdie is kwessies waarvan ons lees in die geskiedenisboeke, terwyl ons nooit werklik besef hoe erg so iets regtig is nie en ook, dat iets soos hierdie in jou leeftyd sal gebeur nie. Nietemin, sekerlik het jy, soos ek vir ‘n oomblik gewonder: “…maar HERE, Hoekom? Hoekom nou? Waarom hier? Hoekom met my?”

Ek is geen gesondheidsorgkenner nie, nóg is ek die laaste een om advies te gee oor gesondheidsorg. Die professie waarin ek verkeer handel oor konflik; gewoonlik nadat dit plaasgevind het is ons die spesialiste wat dit hanteer, en klaring gee aan die situasie. Dit is frustrerend om te weet dat hierdie situasie, hierdie virus, nie net ‘gehanteer’ kan word nie en dit plaas ‘n demper op my moed.

As skrywer van ‘n ‘Christen-blog’ kan ek oophartelik getuig dat ons het ‘n plek om te gaan vir alle krisisse, insluitend ‘n gesondheidskwessie soos hierdie. Hierdie plek word in die woord van God beskryf, wat ons herinner waar ons ons hoop kan kry. Vir gelowiges is dit ‘n goeie tyd om te onthou dat ons hoop nie is op wat ons spaar, waar ons werk of selfs van ons liggaamlike gesondheid afkomstig is nie. Nóg die wêreldmarkte nóg ons huidige gesondheidstatus verskaf die bron van ons identiteit. Hierdie is die verkeerde plekke om te gaan hoop soek. Dalk mis ons dit. Miskien is hierdie nie ‘n geleendheid om hoop te soek nie, maar hoop te gee.

Ons is gewoond aan mag en sekuriteit.

Ons is gewoond aan mag en sekuriteit. Dit is nie ‘n aangename gevoel wanneer dit bedreig word nie. Skielik namate die moontlikheid vir omkering groter word, is dit hoe ons reageer in tye wanneer ons magteloos en kwesbaar voel. Wat die geleentheid vir groei vir ons kan bied sodat ons kan getuig vir ander, is reeds ‘n tyd soos hierdie. Die gevolg is dat daar baie is wat die tyd waarin hulle leef nie sien as ‘n geleendheid nie, maar eerder ‘n vloek. Ons is nie noodwendig altyd bewus van die tyd waarin ons leef nie, net so min soos die mense eeue terug.

Dit is verstaanbaar. Een probleem wat ons in die oë staar is dat menslike kontak deur die koms van tegnologie, verminder word. So versprei vrees eerder as hoop. Ek hoef nie veel te sê oor hoe ‘n storie oor die media kan versprei nie. Snaaks dan, dat hoop deur menslike kontak verhoog kan word, en vrees, deur die gebrek daarvan, verhoog. Menslike kontak word nou nog meer verminder om te keer dat die COVID-19 versprei wat verstaanbaar is. Dit plaas ‘n verdere demper op die verspreiding van die evangelie; op die verspreiding van hoop uit vrees dat ons ons lewens kan verloor. Daar is defnitief diegene wat vrywillig hul lewens prysgee vir die evangelie in ander lande. Dit is vrywillig. Wat gebeur as jy nie ‘n keuse het nie? Wat gebeur as ‘n geleendheid onwillekeurig voor jou voete neergesit word? Dit is normaal om magteloos te voel in ‘n tyd soos hierdie en jy is reg om hierdie geleendheid te vrees, maar baie baie verkeerd om daarvan af weg te hardloop.

Die mens vrees

Filosowe het telkemale waargeneem dat die mens, vrees. Ons vrees omstandighede; ons vrees die onbekende; ons vrees dat ons alles kan verloor; ons vrees wat ander mense aan ons kan doen, veral misdadigers, bowenal, ons vrees die dood. Ten minste kan ‘n mens met ‘n misdadiger redeneer. Ek kan poog om die persoon wat sy pestool teen my kop druk vir die twee-honderd rand in my beursie, te ooreed om my nie daarvoor te skiet nie. Ek kan slegs poog, miskien kry ek dit reg. Darm is daar daardie geleenheid. In terme van die natuur, soos die storms wat Kimberley die laaste ruk tuister, is daar geen ander pogings nie – jy moet dit slegs aanvaar. Ons vrees hierdie natuurlike magte buite ons beheer.

‘n Bybelse voorbeeld:

“En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ‘n groot stilte gekom. Toe sê hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie? En ‘n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!”

Markus 5:38-41 (1953)

Die Skrif het baie te sê oor vrees. As ons die woord “vrees” in ons Bybels sou opsoek, sou ons honderde voorvalle vind. Tog is daar verskillende tipe vrees. Daar is twee hoof maniere waarop die Skrif daaroor leer. Eerstens is daar die vrees vir God; tweedens is daar die vrees vir al die res.

Net soos ons, het die dissipels gevrees wat hulle nie kan beheer nie, in hierdie spesifieke geval, die natuur – die storm. Hierdie soort vrees trek ons ​​weg van God af. Dit sê vir ons dat ons op ons eie is en dat niemand omgee om ons te help nie. Dit sê vir ons dat God nie regtig oor ons besorg is nie. Dit maak reuse uit ons vrees, reuse so groot dat ons dink dat selfs God hulle nie kan verslaan nie.

‘n Groter vrees het hulle toegesak nadat Jesus die storm, waarmee geen mens kan redeneer nie, stil gemaak het. Hulle vrees het geskuif vanaf die storm, na Jesus. Eweskielik was hulle bewus van wie Hy werklik is. Eweskielik was die storm klein teenoor die heiligheid van God. Hier is nog ‘n vrees waaroor die Bybel praat. ‘n Vrees wat ons moet hê. Hierdie soort vrees is goed. Dit staan ​​teenoor al ons ander vrese. Dit bring wysheid, vreugde, rus en lewe. Dit is ‘n heilige vrees – die vrees vir God.

Hierdie soort vrees is om die wonder van die evangelie te begryp. ‘n Heilige en regverdige God wat vlees sou aanneem en in hierdie sonbevlekte wêreld sou ingaan om ons te red uit die kloue van die dood. Dit is om verslae te wees dat ons as gevolg van Jesus, kinders van God is en dat ons vrymoedig en sonder skaamte voor die troon van die genade kan gaan. Dit is die vrees waar ons die heiligheid van God besef en in ‘n oomblik weet, ons is onwaardig, maar steeds is daar genade. Dit is die vrees waar ons sy werk in ons lewens sien en verstom is oor hoe hy ons liefhet, vir ons voorsien en ons versorg.

Vervang vrees met vrees

Die COVID-19 is net nog een storm op die rowwe see van Suid-Afrika. Ons het baie ander probleme saam met hierdie een. Ons weet dit. Te midde van dit alles moet ons leer om in die tyd te leef waarin ons geplaas is, hoop te bied aan die mense om ons, meer belangrik, die regte goed te vrees.

Ek wil nie graag, soos vele ander droë hoop gee deur te ‘decree’ en te ‘declare’ nie. Al wie mag het oor die natuur is God. Die persone wat so doen, doen dit uit hul eie krag, insettinge en dwaasheid en bring vir baie mense wolke sonder reën. My raad is die: vervang vrees met vrees. Dit klink absurd, maar in plek daarvan om die natuur te vrees, vrees God wat dit gemaak het. COVID-19 is ook net ‘n storm, ‘n baie klein storm in vergelyking met die heiligheid van God.

Ek wil nie sulke vrese hê nie – vrese wat my gryp, verlam en beheer. Ek wil ‘n vrees hê wat na God draai en in hom skuiling vind. Ek wil ‘n vrees hê wat hom te midde van storms vertrou. Ek wil ‘n vrees hê wat alles in my eie greep loslaat en hom vertrou om alles te wees wat ek nodig het. Ek wil ‘n regte vrees hê, die soort wat alle ander vrees wegjaag. Ek wil die vrees van God hê.

Vervang vrees met vrees.

Dawid Brits

(“Gee smaak aan jou wêreld”)