DIE REALITEIT

Een van die belangrikste kenmerke van filosofiese denkwyse is dat jy nooit dinge op sigwaarde moet neem nie. Jy moet altyd bereid wees om te aanvaar dat daar meer in die wêreld is wat die sintuie waarneem. Een van die mees afskrikwekkende take is om na te dink oor wat werklik is, in teenstelling met wat jy dink werklik is en hoe jy die verskil kan ken. Sommige films help om hierdie konsep te verduidelik. Die eerstes wat na vore kom, is The Matrix en Inception.

Ek sal Inception as voorbeeld gebruik, want dit was vir my ‘n beter film. Inception vertel die verhaal van ‘n man en sy span wat drome van mense infiltreer via ‘n gevorderde masjien om inligting te steel – meestal waardevolle dinge soos handelsgeheime en regeringsgeheime. Ek twyfel dat my en jou geheimde belangrik genoeg is vir hierdie span. Dit is ‘n uitstekende fliek – gaan kyk dit as jy hou van flieks wat met jou gedagtes mors.

Binne-in ‘n droom is dit baie moeilik om uit te maak wat die realiteit is, asook wat die verskil tussen een droom en die vorige en volgende een is. Vir die persone in die droom is die droom ‘n werklikheid, dit is al wat daar is vir hulle. Die persone buite die droom is die enigstes wat die verskil kan uitmaak, tensy hulle ook te lank tyd in ‘n droom spandeer. Dan raak die droom hulle werklkheid. Hoe dieper ‘n mens delf in ‘n droom, hoe meer vergeet jy die realiteit… Dit maak vir die beste storie en ‘n uiters goeie fliek.

Hierdie idee is egter gladnie nuut nie. Dit bestaan al vir duisende jare. Die vraag in hierdie fliek beweeg terug na die wortels van filosofie:

is dit moontlik dat my huidige werklikheid…

glad nie werklik is nie?

In Plato se Republic deel hy die storie van die grot. Almal het sekerlik hiervan gehoor, waar Plato onderskei tussen mense wat die sintuiglike kennis vir die waarheid misgis en mense wat die waarheid regtig raaksien. Die menslike lewe op hierdie aarde is soos ‘n ellendige lewe in ‘n diep grot. Mense het hul bene en nekke vasgeketting, sodat hulle nie van hul plekke kan beweeg of om hulle kan sien nie. Daar is ‘n vuur bo en agter hulle en hulle sien net die skaduwees wat oor die mure val, soos in ‘n poppespel. As gevolg van hierdie beperkte toestand, word alles wat hulle teen die muur sien, as die waarheid beskou. Aangesien hulle al vir eeue met hierdie toestand verkeer, ken hulle nie die regte wêreld buite hul grot nie. Dus is die beelde teen die muur en die eggo van verskillende stemme vir hulle die uiteindelike waarheid.

As een van hulle vrygelaat word en na die monding van die grot gesleep word, kry hy skerp pyne. Eers gee sy bevryde ledemate hom pyn, en dan gee die moeite om na bo te klim pyn, en dan verblind die daglig van die buite werklike wêreld sy oë. Hy moet homself toewy aan die nuwe omgewing en nuwe voorwerpe. As sy oë aangepas word, begin hy die regte waarheid sien. Hy beskou hom dus as gelukkig dat hy die geleentheid kry om die waarheid te sien, en jammer vir sy medegevangenes wat nog in daardie donker onkundige wêreld woon.

Ek brei uit met die voldgende voorbeeld – Onthou jy nog jou eerste speelding? Veronderstel dit was ‘n speelding wat lyk soos ‘n dier. Toe jy klein was, het daardie beeld van daardie speeldingdiertjie jou totale verstaan van daardie dier omhels. So as dit ‘n speel-leeu was, en jou ouers neem jou eendag na die dieretuin en daar sien jy ‘n werklike leeu vir die eerste keer – wat ‘n skok is dit nie op jou sisteem nie!? Onmiddelik kom jy agter dat jou verstaan oor wat ‘n leeu werklik is, was heeltemal verkeerd. Leeus is nie ‘n speelding nie, hulle is gevaarlike diere met ‘n harde brul en groot kloue.

Hierdie stories van die grot en die leeu is nie net oor die groot “Aha!” oomblikke wat ons so dikwels ervaar nie. Dit is veel meer as dit. Wat Plato ons leer is dat alles wat vandag bestaan is slegs ‘n skaduwee van die werklikheid en dat daar meer is om te sien. Die probleem is dat ons ons realiteit vir onsself uitmaak deur ons sintuie, maar daardie dinge is nie die mees werklike dinge nie. Alles wat ons waarneem is slegs ‘n skaduwee van ‘n hoër waarheid.

Daar is baie ingepak in hierdie filosfie. Dit is die ander punt van hierdie storie – om te wys dat om te dink en te redeneer is harde werk! Indien dit maklik was, sou almal die lus gehad het om dit te doen. Om met die realiteit te worstel maak ons ongemaklik. Ons hou nie daarvan dat ons gemak getoets word nie en om te beweeg van die duisternis na die lig is ongemaklik, maar ook geweldig verblydend.

Hierdie beginsel geld ook vir wanneer ons tot kennis van God kom; wanneer ons tot kennis van ons sonde kom en van die duisternis oorbeweeg na die lig. God is die realiteit en alles wat ons waarneem is ‘n skaduwee van daardie realiteit. Alle vorme van kennis en wysheid is slegs ‘n skaduwee van Jesus Christus as die absolute vergestalting van die hoër waarheid.

Ek moedig jou aan om bietjie te gaan sit en te wonder oor jou realiteit. Doen jou sintuie slegs die waarneming of kan jy werklik sê: “Ek het tot kennis van die waarheid gekom.”

Dawid Brits

(“Gee smaak aan jou wêreld”)