GENADE ALLEEN

Dit is die menslike natuur om God se glorieryke waarhede te verdraai, want ten spyte van wat ons glo oor ons eie eerlikheid, verstaan ons ten dele, en verduidelik ten dele. Op so manier word die waarheid ‘n hindernis vir die heilige lewe, soos wanneer ons genade misbruik. Ek ken ‘n paar mense wat dink hulle het verby God se genade beweeg; ek ken ‘n paar mense wat dink dat hulle dit nie werd is nie; ek ken ook ‘n paar mense wat glo dat God se genade nie genoeg is nie. Hierdie fyn balans is moeilik om te handhaaf – ons werk nie vir ons redding nie asgevolg van genade. Daarom is dit slegs uit genade dat ons vir Christus kan leef.

Ons weet dat dit uit genade is dat ons gered word – dit is gratis, dit is ‘n gawe van God af: “Dit is mos die genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie, want ons is God se handewerk…”(Efesiërs 2: 8-10 NLV).

Min mense verstaan God se genade, daarom het hulle ook geen genade om vir ander te gee nie. Legalisme gaan altyd sy greep op jou hou as jy nie tot kennis van God se genade kom nie. Party mense beweeg van genade na legalisme binne 180 km/p en vergeet dit genade is waardeur hulle gered is.

Ek is oortuig dat om te leef uit genade is baie moeiliker as om legalisties te leef. Hoekom?

Sekere mense vind dit makliker om te leef volgens reëls (Die wet), want die reël is baie duidelik, dit is maklik om oor te dra en dit is maklik om ander daarby te hou – alhoewel genade is ook duidelik, maar dis moeilik om ander by daardie standaard te hou, want jy besef jy verdien straf eweveel. Bo en behalwe, vir jou om genade te wys, word jy ook gekonfronteer met jou eie sonde en niemand, ek herhaal, niemand wil hul eie foute/sonde in die oë staar nie en niemand wil iemand anders met genade hanteer nie. Dis makliker om te sê, “jy mag nie…” as “Ek was daar waar jy nou is. Kom ek wys jou hoe om dit nooit weer te doen nie, nie uit jou eie goedheid nie, maar uit God se genade”.

Ons word dikwels versoek om die genade wat ons skynbaar liefhet op sy kop draai in ‘wettiese genade’. Byvoorbeeld, in plaas van om genade uit te brei na ander wat verskillende oortuigings as ons eie het, kan ons in plaas daarvan aanvaar dat hulle leef in onderdanigheid aan die reël.

Met ander woorde, ons mag verkeerd aanneem dat die een Christen se gehoorsaamheid nie gemotiveer word deur ‘n ware liefde vir die Verlosser nie. Enige ernstige daad van gehoorsaamheid begin om te lyk soos wettigheid eerder as ware gehoorsaamheid wat gemotiveer en volgehou word deur God se genade. In die poging om genade te beskerm, kan ons die ergste motiewe in mekaar aanvaar. As ons ander oordeel, wat soortgelyke lewenstyl beveel, draai ons in wese ons pragtige geskenk van genade toe in wettiesgeoriëndteerde papier.

Aan die ander kant, ons weet uit die Skrif dat God ons alles gegee het wat ons nodig het vir godsvrug. Petrus herinner ons daaraan: “Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang!” (2 Petrus 1: 3 NLV).

Indien ons beweer dat ons Hom regtig ken het ons het ‘n begeerte om vir die Here te lewe en het diep oortuigings dat ons sonde God onteer. Iewers in ons strewe na godsvrug vergeet ons dat dit net deur God se genade is dat ons vir hom kan lewe. Dit is God wat ons alles gegee het wat betrekking het op lewe en godsvrug. Slegs “Maar slegs deur God se genade is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit weer ook nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het “(1 Korintiërs 15:10 NLV).

Ongelukkig, wanneer ons vergeet dat enige godsvrug – enige vordering of groei – wat ons sien of ervaar, van ons Vader kom, kan ons opgeblaas word en ons standaarde oor ander begin projekteer. Dit kan veral toksies wees as ons morele standaarde uit besluite en prioriteite maak wat nie in die Skrif beskryf word nie of selfs uit konteks praat op iets wat ons nie behoorlik verstaan nie, maar glo dat ons doen. Ons begin so maklik om te oordeel en mense te druk om te voldoen aan ‘n lewenstyl wat God nooit beveel het nie. Dit gaan beide kante toe, of ons is te sag of te hard. Ons vergeet van die goeie beginsels in die Bybel wat fundamenteel is vir ons geloof, en in plaas daarvan begin om ons eie voorkeure te maak en die wet te misgebruik.

Wanneer ons hierdie punt bereik, is dit die plek waar ons voel ons het verby genade beweeg, waar ons glo ons het dit nie nodig nie of waar ons oortuig is dat ons dit nie werd is nie. Legalisme het ons dan binne sy greep; sy greep is hard en verwoestend, baie moeilik om uit te ontsnap! By wyse van spreuke het jy dan ‘n fariseër geword wat ‘alles’ weet, maar niks verstaan oor God se karakter nie.

Ons moet die realiteite balanseer. Ons is geroep om alle dinge tot die eer van God te doen; dit is genade op sy eie, dat ek en jy die kans gegun word om vir God te leef. Dit sal nooit maklik wees nie. Om dit uit te leef verg konsekwentheid en is Bybels nie ‘n klein uitdaging nie.

Dieselfde genade wat onverdiende guns by God is, is dieselfde genade wat ons leer om wêreldse begeertes te verloën, gebalanseerd, volgens die wil van God en toegewyd aan Hom, om in die huidige tyd te leef, soos ons kan sien in Titus 2: 11-12. Genade leer ons om onsself te skei van kulturele sonde, maar ons moet onsself nooit as die standaard gebruik nie. Nee, ons moet sonde ontken en wys na Christus.

As ons daarna streef om uit genade te lewe, kom ons vra God om ons te herinner aan die ongelooflike gawe van genade wat ons gegee is, van ons totale afhanklikheid van hom vir goddelike lewe en die nederigheid om ons swakhede te erken. Mag ons na Christus kyk – nie onsself nie – as die standaard wat ons op ander projekteer. Mag ons deur genade opgelei word om genade aan ander te gee.

Dawid Brits

(“Gee smaak aan jou wêreld”)

Advertisements